Drie vas wat bejaarde aanrand, dogter verkrag
2011-08-22 18:00
Johannesburg – Drie mans is Maandagoggend in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ‘n plaashuis in Beacon Bay naby Oos-Londen beroof en ‘n vrou verkrag het, het die Oos-Kaapse polisie gesê.
Volgens lt. kol. Mtati Tana het die mans, tussen die ouderdomme van 19 en 21, Sondagoggend by die huis ingebreek.
Hulle het na bewering die 72-jarige vrou wat in die huis gewoon het aangerand en juweliersware, ‘n digitale kamera, ‘n selfoon en kos gesteel.
Toe hulle die huis verlaat het, het hulle gesien hoe ‘n motor die vrou se dogter naby die huis aflaai. Die mans het weggekruip en die dogter gegryp toe die motor weggery het. Sy is na ‘n nabygeleë bos gesleep en verkrag.
Die polisie het in die Ducats-informele nedersetting op die mans afgekom en die gesteelde goedere, asook verskeie items wat in vorige rooftogte gesteel is, teruggevind.
Die mans sal na verwagting Woensdag in die landdroshof in Oos-Londen verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA