Drie vas vir veiling-bedrogspul
2013-01-02 15:58
Johannesburg – Drie mense is in hegtenis geneem ná hulle na bewering motors by veilings in Limpopo met vervalste bankdokumente gekoop het, het die polisie Woensdag gesê.
Die provinsiale departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling het in Julie verlede jaar 'n rits veilings gehou om ou voertuie te verkoop, het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder vir die polisie, gesê.
"Belangstellende partye, insluitend lede van die publiek, moes 'n registrasiefooi van R5 000 betaal."
'n Sindikaat het volgens Mulaudzi vervalste depositostrokies vervaardig, wat gebruik is om te registreer. Die groep het daarna suksesvol op 11 motors ter waarde van R300 000 gebie. Hulle het weereens vervalste depositostrokies vervaardig om die departement te laat dink dat hulle vir die voertuie betaal het.
Die sindikaat het daarna die motors aan ander mense vir kontant verkoop. Dié mense was nie daarvan bewus dat die motors gesteel is nie.
"Die departement het verlede week besef dat hy om die bos gelei is en het 'n saak van bedrog en diefstal geopen."
Die Valke het met 'n ondersoek begin en drie mense, inlsuitend die groep se beweerde leier, is Woensdag in hegtenis geneem.
'n Totaal van ses voertuie is in Polokwane, Seshego en Thohoyandou opgespoor.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA