Drie vas vir brandstigting, moord
2013-02-07 17:08
Johannesburg – Drie mans is Donderdagmiddag in hegtenis geneem in verband met moord en brandstigting in Lenasia-suid, het die polisie in Gauteng gesê.
Die polisie, wat op ‘n wenk gereageer het, het hulle in die Vlakfontein-gebied opgespoor, het ao. Kay Makhubela gesê.
Die mans, wat tussen 19 en 34 jaar oud is, het glo Sondag ‘n petrolbom by ‘n huis in die gebied ingegooi. Die huis het gevolglik begin brand.
Bure het tot die inwoners se redding gekom, maar ‘n 28-jarige man is op die toneel dood aan rookinaseming. Die ander vier mense is ongedeerd.
Makhubela sê die 23-jarige man, een van die wat in hegtenis geneem is, word ook met twee sake van verkragting verbind. Die misdade is Saterdag en op 14 Januarie gepleeg.
Hy sal Vrydag in die Vereeniging-landdroshof verskyn vir die twee aanklagte van verkragting.
Hy sal ook Maandag saam metr die ander verdagtes op aanklagte van moord en brandstigting in dieselfde hof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA