Drie vas vir R1,2m se sigarette
2011-11-16 19:39
Johannesburg – Drie mans is in hegtenis geneem nadat gesmokkelde sigarette met ‘n straatwaarde van R1,2 miljoen Woensdag in hul vragmotor in Ventersburg gevind is, het die Vrystaatse polisie gesê.
‘n Vierde man is kort daarna in hegtenis geneem, het ao. Malebo Khosana gesê.
Die polisie het die vragmotor omstreeks 01:45 afgetrek.
“Die bestuurder kon nie antwoorde verskaf oor die vrag in die voertuig nie. Hy het aan die polisie gesê hy vervoer beskuitjies,” het Khosana gesê.
Die polisie het die vrag ondersoek en bokse sigarette sonder dokumentasie ontdek. Die vragmotor was met 460 bokse gelaai, waarin die gesmokkelde sigarette gepak was.
Die drie mans sal na verwagting Donderdag in die Ventersburg-landdroshof verskyn.
Die vierde man is in hegtenis geneem nadat hy probeer het om ‘n polisievrou om te koop om die drie vry te laat. Hy het haar R60 000 aangebied.
“Pleks daarvan om die geld te aanvaar, het sy die man toegesluit vir omkopery,” het Khosana gesê.
Volgens hom is R54 000 kontant in die man se motor gevind. Hy sal ook Donderdag in die Ventersburg-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA