Drie vas oomblikke ná huisrooftog
2011-03-13 18:26
Johannesburg - Drie mans is in hegtenis geneem nadat hulle ‘n huis in Observatory beroof en hul voertuig toe per toeval deursoek is, het die polisie in Johannesburg Sondag gesê.
“Die verdagtes het na bewering Saterdagmiddag toegang tot ‘n huis gekry en die eienaar, ‘n vrou in haar laat dertigs, met ‘n vuurwapen aangehou, juweliersware en ‘n handsak gesteel en toe van die toneel gevlug,” het Katlego Mogale gesê.
Terwyl hulle gevlug het, is hulle opgemerk deur beamptes van die blitspatrollie wat op die hoek van Friedland- en Marshallstraat motors afgetrek en deursoek het, het sy gesê.
Die voertuig en die drie manlike verdagtes, wat tussen 10 en 35 jaar oud is, is deursoek.
Die polisie het twee ongelisensieërde vuurwapens, ‘n Rolex-horlosie en ‘n handsak in die motor gevind.
“’n Veilgheidsbeampte het verbygekom en die polisie gevra wat aangaan. Hulle het die situasie aan hom verduidelik, waarop hy die polisie ingelig het dat daar enkele minute tevore ‘n rooftog in Frederickstraat was.”
Die polisie het van die juweliersware na die slagoffer geneem, wat bevestig het dat dit aan haar behoort.
“Sy was verras, aangesien sy nog nie eens ‘n kans gehad het om ‘n klag in te dien nie.”
Die mans sal eersdaags in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof en die besit van ongelisensieërde vuurwapens.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA