Drie vas ná rooftog by winkel
2012-01-24 21:12
Johannesburg – Drie mans is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering Maandag ‘n winkel in Kagiso buite Krugersdorp beroof het, het die polisie gesê.
Volgens ao. Solomon Sibiya is die mans, onderskeidelik 27, 28 en 32 jaar oud, omstreeks 13:00 in hegtenis geneem nadat mense in die gebied hulle aangehou het.
Die winkelbestuurder was binne die winkel besig om te betaal vir ‘n melkaflewering toe een van die mans hom van agter gestoot het.
Toe hy omgedraai het om te kyk wie hom stoot, is hy op sy linkeroog geslaan met ‘n skerp voorwerp. Die mans het hom en sy assistente toe beveel om op die vloer te lê.
Volgens Sibiya het ‘n rower met ‘n vuurwapen aan een van die assistente gesê om hom te wys waar die geld gehou word.
Die rowers het R4 000 kontant en R3 000 se lugtyd-kaarte gesteel.
Terwyl hulle weggehardloop het, het een van die slagoffers op ‘n fluitjie geblaas en mense in die nabyheid het hulle agternagesit. Die mense het die rowers ingehaal en aangerand voordat hulle hul aan die polisie oorhandig het.
Beslag is op ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ‘n mes gelê. Die geld en kaarte is teruggevind.
Een van die rowers is beseer en na ‘n hospitaal geneem. Die ander word by die Kagiso-polisiekantoor aangehou.
Die polisie stel ondersoek in en die mans sal na verwagting binnekort in die Krugersdorp-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA