Drie vas ná man se skietdood in Kaapstad
2013-01-17 12:30
Kaapstad – Drie mense is in hegtenis geneem nadat ‘n man vroegoggend in Ottery in die Moederstad doodgeskiet is, het die polisie in die Wes-Kaap gesê.
Kapt. Frederick van Wyk sê die 36-jarige man is omstreeks 06:30 herhaaldelik geskiet.
Hy sê drie verdagtes is kort ná die skieter vasgetrek. Een van hulle is ‘n 20-jarige man, wat behandel word nadat hy in die knie geskiet is.
“Die motief vir die skietery is in hierdie stadium onbekend, maar die moontlikheid dat dit bende-verwant is, sal ondersoek word.”
Majidie Abrahams, ‘n raadslid vir die ANC wat die toneel kort ná die voorval besoek het, het aanvanklik gesê die slagoffer was ‘n tiener.
Abrahams het later gesê dit was ‘n man wat doodgeskiet is toe hy sy huis naby Lotus High School verlaat het om brood te gaan koop.
"Sy lyk lê hier op die sypaadjie en die kinders kan nie skool toe gaan nie, omdat hulle bang is,” het hy gesê.
“Dis bende-verwant, met gevegte oor terreine om dwelms te verkoop. Die gemeenskap word deur twee verskillende woonstelblokke verdeel, en die situasie is wisselvallig. Die gemeenskap is steeds rumoerig.”
Volgens die raadslid hou die bende-geveg vir die laaste agt maande aan.
Hy het ook teen die tekort aan polisie-teenwoordigheid in die gebied uitgevaar.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA