Drie van boot gered toe enjin brand
2011-10-29 14:45
Oos-Londen – Drie mense is naby Nahoon-punt van 'n boot gered ná die boot se enjin in vlamme uitgebars het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Saterdag gesê.
'n Branderplankryer het Vrydagaand omstreeks 20:15 rooi noodfakkels gesien en die seereddingsinstituut gebel, het Craig Lambinon, woordvoerder vir die NSRI, gesê.
Die boot se enjin was in vlamme gehul en die see het dit in die rigting van die rotse gestoot.
Die drie mans aan boord, almal van Oos-Londen, kon die brand blus voor die NSRI-span hul opwagting gemaak het.
Die NSRI het die enjin ondersoek, en bevind dat dit weer aan die brand kan slaan. Die boot is gevolglik terug na die NSRI se basis geneem, het Lambinon geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA