Drie sterf ná vragmotor teen motor bots
2011-10-06 15:56
Johannesburg – Drie mense is dood nadat 'n vragmotor op die R554 Heidelburg-pad naby Carnival City teen 'n motor gebots het, het paramedici Donderdag gesê.
Die bestuurder van die motor is ernstig beseer, maar twee mans en 'n vrou wat saam met hom in die motor was, is op die toneel dood, het Derrick Banks, woordvoerder van ER24, gesê.
Reddingskake is gebruik om die lyke uit die wrak te verwyder. Die bestuurder is na 'n hospitaal in Benoni geneem.
Die motor is weens die impak 10 m ver gesleep, het Banks gesê.
Die vragmotorbestuurder is nie beseer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA