Drie sterf in vermeende gesinsmoord
2010-08-04 15:56
Johannesburg – Drie mense, insluitende ‘n eenjarige kind, is Woensdag in Freedom Square in Bloemfontein doodgeskiet, sê polisie.
“Ek kan slegs bevestig wat op die toneel gevind is - drie lyke en ‘n geweer. Ons kan nie verdere inligting bevestig nie,” het kapt. Elsa Gerber gesê.
Luidens berigte was die sterftes deel van ‘n gesinsmoord.
Ongile Modisenyane (1) sou glo deur sy pa January Mosala opgelaai word vir skool. Die kind het by sy ma, Grace Modisenyane (32), gewoon.
Mosala en sy suster, Lerato Mosala (21), het die kind gaan optel.
Toe die twee by die huis opdaag, het Modisenyane glo ‘n vuurwapen by haar gehad. January Mosala het na die naaste polisiekantoor gehardloop om die polisie te ontbied.
Toe polisie op die toneel opdaag, het Lerato in die pad gelê. Sy was glo nog lewendig maar is kort daarna dood.
Modisenyane is glo dood op die trappe gevind, met ‘n koeëlwond en die vuurwapen langs haar. Die kind is in die huis, ook met ‘n koeëlwond gevind.
Volg Nuus24 op Twitter.