Drie sterf in trompop-botsing
2011-04-21 22:00
Johannesburg – Twee volwassenes en ‘n baba is dood toe die taxi waarin hulle gery het, trompop met ‘n vragmotor op die N2-hoofweg gebots het, het paramedici bekend gemaak.
“Die taxi het ‘n vragmotor verbygesteek en toe trompop met ‘n aankomende vragmotor gebots. ‘n Man en vrou het gesterf wat voor in die taxi gesit het,” het Derrick Banks, ER24-woordvoerder, gesê.
Die ongeluk het naby Kokstad in KwaZulu-Natal plaasgevind.
‘n Eenjarige baba het ook in die ongeluk gesterf.
Die taxi-bestuurder en 13 ander passasiers het ernstige beserings opgedoen en is na plaaslike hospitale vervoer vir verdere mediese behandeling.
Die bestuurder van die vragmotor is nie in die voorval beseer nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA