Drie sterf in drie ongelukke in Limpopo
2010-12-12 14:13
Johannesburg - Drie mense is dood in drie afsonderlike padongelukke op Limpopo se paaie, het die polisie Sondag gesê.
"Een persoon is dood en drie ander ernstig beseer op die R81 by Gaza Beef in die Giyani-gebied," het Gordon Horn, woordvoerder vir die provinsiale departement van vervoer, gesê.
Hy het gesê die ongeluk het in die omtrek van padwerke plaasgevind en "ons vermoed dat die bestuurder nie betyds spoed verminder het vir die padwerke nie, uitgeswaai het, en die voertuig gerol het".
Al drie ongelukke het tussen middernag en 05:00 Sondagoggend gebeur.
Die tweede ongeluk het op die N1 naby Potgietersrust in die Mokopane-gebied plaasgevind. "Ons dink hierdie man het in die reën gejaag toe sy voetuig gerol en hy gedood is."
'n Voetganger is gedood toe hy deur 'n motor getref is terwyl hy die N1 by Leeurantjies in die Modimolle-gebied oorgesteek het. "Sigbaarheid was belemmer deur swaar reën."
- SAPA