Drie sterf in Kaapstad-brande
2011-12-24 19:00
Kaapstad – Drie mense, waaronder 'n tweejarige dogtertjie, is dood nadat hul huise deur brande in Kaapstad verwoes is, het 'n beampte Saterdag gesê.
'n Man is Saterdag dood en 16 ander mense dakloos gelaat nadat agt plakkershutte kort ná middernag in die Sweethomes informele nedersetting in puin gelê is, het Wilfred Solomons-Johannes, waarnemende hoof van die Stad Kaapstad se rampbestuur, gesê.
In 'n onverwante voorval is nóg 'n man dood toe sy woonstel omstreeks 11:30 in Belnedere naby Macassar aan die brand geslaan het.
Solomons-Johannes het gesê vier plakkershutte het Saterdagoggend in die Siyahlala informele nedersetting in Du Noon afgebrand. Vier mense is dakloos gelaat.
Die identiteit van die twee mans wat Saterdag in die brande dood is, is nog nie bekend nie.
Intussen is die tweejarige Cassidy Spencer Vrydag dood toe 'n brand by haar ouerhuis uitgebreek het terwyl sy geslaap het.
Agt agterplaaswonings en drie huise is verwoes en 19 mense is dakloos gelaat.
Solomons-Johannes het gesê die daklose mense het kospakkies, klere, komberse en boumateriaal ontvang.
Die oorsake van die brande word ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA