KZN-botsing: Motor 'in twee gesny'
2011-07-11 11:16
Durban – Drie mense is dood en twee ander beseer in 'n ongeluk in Elandskop waarin drie motors betrokke was, het paramedici in KwaZulu-Natal Maandag gesê.
"Met paramedici se aankoms op die toneel in Edendaleweg omstreeks 22:00 (Sondag), was een van die motors in twee gesny," het Derrick Banks, woordvoerder van ER24, gesê.
"Die lyke van twee mans en 'n vrou het buite die wrakke van die voertuie gelê."
Banks het gesê die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie, maar dat die weer dalk 'n rol gespeel het.
Die manlike bestuurder van 'n Opel Kadett en nog 'n beseerde man is in 'n kritieke toestand na die Edendale-hospitaal gehaas.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA