Drie spoedvrate in Gauteng vasgetrek
2010-12-17 22:41
Johannesburg – Drie Gautengse motoriste is in hegtenis geneem nadat hulle Vrydagoggend die spoedgrens oorskry het, het die verkeerspolisie gesê.
"Twee mans, 28 en 42 jaar oud, is op 183km/h en 197km/h by die Valtakie- en Bronkhorstpruit-afrit betrap," het Zakhele Nkabinde, 'n woordvoerder, gesê.
"Albei het verskillende redes aangevoer omdat hulle die spoedgrens oorskry het. Die bestuurder van die Ford Focus het gesê hy is laat om sy bestuurder in Vereeniging op te laai en die bestuurder van die wit Audi Q7 het gesê hy was nie bewus dat hy 197km/h gery het nie."
Albei mans is op R500 borgtog vrygelaat.
Hulle sal na verwagting Maandag in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn.
'n Derde man wat 'n Volkswagen Scirocco op die N4 Wes langs die Rosslyn-afrit bestuur het, is in hegtenis geneem nadat hy 187km/h in 'n 120km/h-sone gery het.
"Hy was onderweg na Witbank en was laat vir 'n vergadering. Hy is in hegtenis geneem en na die Akasia-polisiekantoor geneem," het Nkabinde gesê.
Dié man is op borgtog van R1000 vrygelaat en sal na verwagting Maandag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA