Drie soek ná aanval op Chrysler-baas
2013-02-13 15:45
Johannesburg – Drie mense was betrokke in die aanval op Trent Barcroft, hoof- uitvoerende beampte van Chrysler Suid-Afrika, en sy vrou, Cathy, het die polisie in Gauteng Woensdag gesê.
Kapt. Kym Cloete, polisiewoordvoerder, het gesê die aanval het Saterdag omstreeks 14:45 plaasgevind.
"Hulle het op die R55 voor Shakespeareweg in Barbeque Downs (naby Midrand) gery toe hulle aangeval is.
Trent is in die maag geskiet en is steeds in die intensiewe sorgeenheid in die Sunninghill-hospitaal. Sy vrou is ongedeerd.
"Die aanvallers het met juwele twee selfone en 'n handsak gevlug," het Cloete gesê.
Niemand is in hegtenis geneem nie en dit is nie bekend of die polisie enige leidrade het nie.
"Al wat ek vir eers kan sê is dat die ondersoek voortduur."
Richard Sloman, woordvoerder van die maatskappy, het vroeër gesê Barcroft se vrou is steeds geskok oor die voorval.
Sloman het gesê Barcroft sal na verwagting ten volle herstel.
Die egpaar is Amerikaners.
Jack Hilmer, woordvoerder van die Amerikaanse ambassade, het gesê hulle neem kennis van die skietery, maar kan nie kommentaar lewer nie, omdat Trent 'n private burger is.
'n Bestuurafdeling by die maatskappy is tans in beheer tot Trent terugkeer werk toe.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA