Drie sit lewenslank vir moord
2012-01-20 19:41
Johannesburg – Drie mans is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir hul betrokkenheid in ‘n huisbraak, ontvoering en moord in 2009, het die polisie in die Oos-Kaap Vrydag gesê.
Die hooggeregshof in Oos-Londen het Luphumlo Mqwebedu (25), Lubabalo Mdoda (23) en Mphumzu Mchatha (24) Donderdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord, het lt. kol. Mtati Tana in ‘n verklaring gesê.
Hulle is elk ook tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal saam uitgedien word.
Nog twee beskuldigdes, Lonwabo Makhinza en Ntandazo Jako, beide 21, is elk skuldig bevind aan twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede.
Makhinza is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis vir elke aanklag en Jako tot 12 jaar tronkstraf vir elke aanklag. Hul vonnisse sal ook saam uitgedien word, het Tana gesê.
Jako was die eerste wat in hegtenis geneem is. Hy het beweer dat die ander hom gedwing het om die wegkommotor te bestuur ná die rooftog in Augustus 2009.
Hy het besonderhede oor die misdaad en sy medepligtiges bekendgemaak, wat tot hul inhegtenisname gelei het.
Nadat hulle skuld erken het op die moord van die 48-jarige taxibestuurder, Zingisile Ngxangxeni, het hulle die polisie na die stortingsterrein van Amalinda verwys, waar sy lyk gevind is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA