Drie polisiemanne vas vir afpersing
2010-02-18 20:30
Johannesburg – Drie polisie-beamptes is in hegtenis geneem vir afpersing nadat hulle omkoopgeld van ‘n man gevra het in ruil vir sy vryheid, het die Valke Donderdag gesê.
Hulle is Woensdag in hegtenis geneem nadat hulle gedreig het om ‘n man van Richardsbaai in hegtenis te neem as hy nie vir hulle R6 000 gee nie, het Musa Zondi, woordvoerder vir die Valke, in ‘n verklaring gesê.
Die geld moes as borgtog-geld verbloem word.
“’n Klopjag was vir Woensdag beplan en die klaer sou na Durban ry om die amptenare te ontmoet.
“Die klaer, wat toegerus was met ‘n opneemtoestel, het twee van die amptenare by die Pavillion winkelsentrum ontmoet. Een van hulle het later by hulle aangesluit om saam met hulle na die polisiestasie te gaan,” het Zondi gesê.
Die man se vingerafdrukke is by die polisiestasie geneem en hy het die geld kort na sy vrylating aan hulle oorhandig.
“Lede van die Valke het die geld in ‘n kas in een van die beskuldigde polisiemanne se kantore gevind,” het Zondi gesê.
Die drie polisiemanne sal Donderdag in die hof verskyn.
- Sapa