Drie minderjariges afgelope ruk verkrag
2010-10-11 09:22
Die Burger
Port Elizabeth – Die polisie op Humansdorp hoop om binnekort ’n pa wat sy minderjarige dogter (12) die afgelope week na bewering verkrag het, in hegtenis te neem.
Ao. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het gesê hoewel die voorval reeds verlede Sondag, 3 Oktober omstreeks 20:00 in die Kwanomzamo-woonbuurt buitekant dié dorp plaasgevind het, is die saak die afgelope Donderdag by die plaaslike polisiekantoor aanhangig gemaak.
“Die pa en sy dogter was glo alleen by die huis. Na bewering het die verdagte sy dogter met ’n mes gedreig, haar klere uitgetrek en haar verkrag.”
Swart het gesê die meisie het ’n onderwyser van die voorval in kennis gestel. “Die verdagte is bekend aan ons.” Swart het gesê dit is die derde geval waarin ’n minderjarige meisie in die distrik die afgelope drie weke verkrag word.
In die eerste voorval op 27 September het ’n pa (55) sy 12-jarige dogter glo herhaaldelik verkrag. Hy is in aanhouding en sal vandeesweek om borgtog aansoek doen.
In die tweede voorval, op 30 September, is ’n agtjarige meisie vermoedelik herhaaldelik deur haar oom (25) in die Vaaldam-omgewing verkrag. Dié vermeende verdagte is nog soek.
- Die Burger