Drie in hof vir burgemeester se moord
2010-06-09 00:37
Bloemfontein – ‘n Senior Naledi-munisipale beampte, haar man en ‘n inwoner van Lesotho het Dinsdag in Wepener in die landdroshof verskyn op aanklagte van die moord op Motlatsi Motloi, Naledi-burgemeester.
Volgens sers. Mmako Mophiring, woordvoerder vir die Valke in die Vrystaat, is borgtog nie aan Caroline Mokhothu (43) en haar man James (34), ‘n paramedikus, toegestaan nie.
Die borgtog-aansoek van Senoe Khaka (29) is nie Dinsdag in die hof aangehoor nie omdat sy prokureur versuim het om op te daag.
Die saak is uitgestel tot 19 Julie vir verdere ondersoek. Khaka sal ook in aanhouding bly.
Motloi (32) het gesterf nadat hy verlede maand twee keer voor sy huis in Wepener geskiet is. Volgens die polisie het sy bure die skote omstreeks 20:00 gehoor en uitgehardloop om ondersoek in te stel.
"Ons het gesien hoe die burgemeester halfpad na sy voordeur van sy huis neerval,” het ooggetuies gesê.
Motloi was die ANC-burgemeester van die Naledi-munisipaliteit waaronder die dorpe, Wepener, Vanstadensrus en Dewetsdorp val.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA