Drie in hegtenis wat vragmotor kaap
2011-10-02 20:07
Johannesburg – Drie mans is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ‘n vragmotor naby Bronkhorstspruit gekaap het, het die Gautengse polisie Sondag gesê.
Die vragmotor het Saterdag omstreeks 12:00 van Ekandustria in die Ekangala-township na Cullinan gereis toe die bestuurder afgetrek het om te urineer, het konst. Kenny Mahlangu gesê.
Drie mans het toe uit die bosse gekom en vir ‘n rygeleentheid gevra. Toe die bestuurder geweier het, het hulle ‘n geweer te voorskyn gebring en hom terug by die vragmotor in gedwing. Die kapers het die man van ‘n onbekende hoeveelheid kontant beroof en hom gedwing om na Cullinan te ry.
“Die bestuurder het die mans toe die skrik op die lyf gejaag deur te sê hulle word deur die polisie agtervolg. Hulle het hom beveel om af te trek, uit die vragmotor gespring en weggehardloop.”
‘n Groep plaaswerkers het hulle agternagesit en vasgekeer. Die mans sal na verwagting Maandag in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn op aanklagte van kaping.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA