Drie in hegtenis ná hoëspoed-jaagtog
2011-11-10 21:59
Johannesburg – Drie mans is Donderdag in hegtenis geneem ná ‘n hoëspoed-jaagtog op die N2 naby Mtubatuba in KwaZulu-Natal, het die polisie gesê.
Die polisie is in kennis gestel dat vier mans beplan het om ‘n transitovoertuig te beroof, het kapt. Thulani Zwane gesê.
Toe die polisie hul motor op die N2 genader het, het hulle weggejaag, het Zwane gesê.
“Die verdagtes het op die polisie begin skiet. Die polisie het teruggeskiet.”
Die bestuurder het beheer oor die motor verloor en dit het omgeslaan.
“Drie verdagtes is in hegtenis geneem en een het te voet gevlug,” het Zwane gesê.
Een van dié wat in hegtenis geneem is, is gewond en is onder polisiebewaking in ‘n hospitaal opgeneem. Hy is in ‘n stabiele toestand.
“Die polisie het beslag gelê op ‘n R5-aanvalsgeweer, ‘n pistool en ammunisie, wat in hul voertuig was.”
Die drie sal aangekla word van sameswering om te beroof, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Hulle sal binnekort in die hof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA