Drie in Jhb vas vir reeks inbrake
2011-06-30 17:01
Johannesburg – Drie mense is in hegtenis geneem in verband met ‘n vlaag inbrake en die roof van juweliersware in en om Sandton in Johannesburg, het die Gautengse polisie Donderdag gesê.
Die bende, wat in ‘n Mercedes-Benz gery het, is Woensdagaand in Sandton van die pad getrek, het lt. kol. Lungelo Dlamini gesê.
Hulle is met vier pistole in hul besit betrap.
Die polisie is na verskeie huise in Sandton, Bramley en Alexandra geneem, waar hulle goedere wat vermoedelik gesteel is, teruggevind het.
Die goedere, wat saam meer as R2,5 miljoen werd is, het plasma-televisiestelle, diamantringe, ontwerpersdonkerbrille en horlosies, insluitende Rolex-horlosies, gevind.
Die Mercedes-Benz, wat vermoedelik ook gesteel is, word met verskeie ernstige en gewelddadige misdade verbind, het Dlamini gesê. Beslag is op die Mercedes-Benz, ‘n Volkswagen Golf en vyf ongelisensieërde vuurwapens gelê.
“Dit is vermoedelik dieselfde bende wat Woensdag betrokke was by die roof van ‘n Rolex-horlosie en diamant-oorbelle in Sandton.”
Die drie sal Maandag in die landdroshof in Pretoria verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA