Drie geskors oor Malema-grap
2010-04-27 07:04
Aldi Schoeman, Die Burger
Kaapstad - Drie vroue in diens van die polisie is hangende ’n tugondersoek geskors omdat hulle glo ’n gemanipuleerde Bad Boys-plakkaat met pres. Jacob Zuma en Julius Malema, ANC-jeugligaleier, se gesigte daarop per e-pos aangestuur het.
Brig. Novela Potelwa, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die drie is geskors en die klag teen hulle is een van onbehoorlike optrede terwyl hulle aan diens was.
Twee van hulle is klerke van die Woodstock-polisiekantoor en die ander ’n beampte van die Paarl-Oos-polisiekantoor.
Kol. Billy Jones, ’n polisiewoordvoerder, het gesê al drie is sowat drie weke gelede geskors.
Die e-pos bevat ’n manipulasie van die rolprent Bad Boys II se plakkaat. Op die oorspronklike plakkaat is Will Smith, met ’n vuurwapen in die hand, en Martin Lawrence teen die agtergrond van ’n groot brand.
Die gemanipuleerde weergawe het Zuma se gesig in die plek van Smith en Malema s’n op Lawrence se gesig. Die rolprent se naam, Bad Boys II, is verander na Bad Boys III.
Die vuurwapen in Smith se hand is vervang met ’n stortkop in Zuma se hand.