Drie dood gevind op Limpopo-plaas
2010-11-16 16:52
Johannesburg – ‘n Bejaarde paartjie en een van hul werkers is Dinsdag op ‘n plaas in Vivo vermoor, het die polisie in Limpopo gesê.
‘n Persoon wat ‘n tipe oes wou koop het Dinsdagoggend na die plaas gegaan, het lt.kol. Ronel Otto gesê.
Die man kon niemand by die huis vind nie. Hy is daarna na die plaaswerker se huis toe waar hy die werker se lyk gevind en die polisie gebel het.
Die polisie het na die plaashuis gegaan en die lyk van ‘n vrou, wat vermoedelik in haar 60’s is, in die huis gekry.
Volgens Otto was die vrou se hande aan mekaar vasgebind.
Die vrou se man en die paartjie se motor was weg, het sy gesê.
Polisie en boere in die omgewing het op die plaas rondgesoek en die lyk van die eienaar gevind.
Sy liggaam was aan waterpype wat van die dam na die plaas lei, vasgebind.
Die motor is 20m van die man se lyk af opgespoor.
Niemand is sover in hegtenis geneem nie, het Otto gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA