Drie beroof bank in Rustenburg
2011-04-21 23:00
Johannesburg – Drie gewapende mans het ‘n bank in Rustenburg beroof en met ‘n onbekende hoeveelheid geld op die vlug geslaan, het die polisie in Noordwes Donderdag gesê.
“Die verdagtes het omstreeks 10:00 by die Nedbank in die Rustenburg Square-winkelsentrum ingestorm en die kliënte en veiligheidswag beveel om op die grond te lê,” het brig. Thulani Ngubane, polisiewoordvoerder, bekend gemaak.
Een van die mans het by die deur waggehou terwyl die ander die geldlaaie leeggemaak het.
“Die verdagtes het in ‘n rooi BMW vanaf die toneel gevlug in die rigting van Pretoria,” het Ngubane gesê.
Niemand is in die voorval beseer nie,.
“Die een verdagte is ‘n gevaarlike vlugteling wat verlede week uit aanhouding ontsnap het,” het Ngubane gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA