Drie beamptes vas oor gesteelde horlosies
2011-05-31 13:02
Durban – Twee metropolisiebeamptes en 'n polisiesersant is in hegtenis geneem nadat gesteelde horlosies in hul huise gevind is, het die polisie in KwaZulu-Natal Dinsdag gesê.
Lt. kol. Vincent Mdunge het gesê twee metropolisiebeamptes het verlede week by 'n hotel in Umhlanga beslag gelê op 400 horlosies ter waarde van R3 000 elk.
Dié horlosies is in die besit van 'n 70-jarige man gevind.
Op pad na die Durban-Noord-polisiekantoor, het die twee metropolisiebeamptes elk 25 horlosies gesteel.
Hulle het die res ingehandig, maar die sersant aan diens het ook 'n paar gesteel.
Die Durbanse georganiseerde misdaadeenheid het ondersoek ingestel toe die eienaar van die horlosies gekla het oor die diefstal.
Mdunge het gesê die twee metropolisiebeamptes is Maandagmiddag in hegtenis geneem. Die georganiseerde misdaadeenheid het 25 van die horlosies in een van die beamptes se huise gevind en 17 in die ander.
Die ondersoekbeamptes het die twee na die Durban-Noord-polisiekantoor geneem, waar die sersant aan diens een van die gesteelde horlosies gedra het.
Die polisie het 20 horlosies in sy huis gevind.
Die mans staan tereg op aanklag van diefstal en verskyn Dinsdag in die Durbanse landdroshof.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA