Drie Cope-lede geskors oor geld
2011-01-14 09:01
Bloemfontein - Drie Vrystaatse wetgewerlede van Cope is voorwaardelik geskors weens beweerde versuim met hul finansiële verslagdoening, het aan die lig gekom.
Een van hulle is Casca Mokitlane, wat vroeër ook ’n ANC-wetgewerlid was. Die ander twee is Mzwandile Hleko en Silvia Lala.
’n Ouditeur is nou aangestel om Cope in die Vrystaat se partypolitieke fonds te ondersoek.
Vanita Coetzee, waarnemende provinsiale sekretaris van Cope in die Vrystaat, het bevestig die drie is sowat ’n maand gelede voorwaardelik geskors.
Hulle het na bewering aanhoudend geweier om verslag oor hul geldelike verslae oor die inkomste en uitgawes van die party te doen.
“Cope het die laaste twee jaar ’n bedrag van nagenoeg R7,2 miljoen vir die party se politieke fonds van die wetgewer ontvang. Die drie lede kan nie verslag doen oor nagenoeg die helfte van die geld ter sprake nie.”
Coetzee sê die drie lede moes kragtens ’n party-resolusie op 2 Desember reeds die boekhouding en finansiële verslae aan ’n ouditeur oorhandig het.
“Hulle het dit eenvoudig nie gedoen nie. Daar was geen samewerking van hul kant nie. Daarom is hulle op 14 Desember dissiplinêr deur ’n onafhanklike komitee van die party geskors.”
Sy sê hulle mag geen verdere deelname aan die party hê nie, nie op provinsiale of nasionale vlak nie.
Die hooggeregshof in Bloemfontein het die week beslis die drie lede mag ook geen verdere toegang tot enige finansiële verslae of bankrekening van die party kry nie.
Coetzee sê die hulp van die ouditeur word nou ingeroep om te bepaal wat van die geld geword het waaroor die drie lede nie verslag kan doen nie.
- Volksblad