Drawwer-moordbeskuldigde kry rybewys terug
2013-02-18 14:41
Pretoria – Die Pretoriase hooggeregshof het Maandag beslis dat die rybewys van 'n man wat van die moord op vyf drawwers beskuldig word, aan hom teruggegee word.
Sibusiso Langa, 'n meganiese ingenieur, was na bewering dronk toe hy op 23 Oktober 2011 met sy Mercedes Benz ML500 in die groep drawwers ingeploeg het.
Die saak is verlede jaar na die hooggeregshof verwys.
Die Pretoriase hooggeregshof het Maandag gehoor dat Langa se verdedingspan nie gereed is vir die verhoor nie. Die verdediging het 'n voorstel vir 'n pleitooreenkoms by die hof ingedien, maar die staat het dit vroeër die maand verwerp.
Richard Mkhabela, Langa se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê voorbereidings vir die verhoor is vertraag weens die feit dat sy kliënt nie 'n rybewys het nie, en sy bewegings beperk is.
Regter Potteril Sulette het beveel dat die staat verseker dat Langa sy rybewys terugkry, wat hom in staat sal stel om rond te ry om met sy regsverteenwoordigers te vergader.
Die staat het tydens Langa se laaste hofverskyning op 11 Mei in die Pretoriase landdroshof gesê hy staan tereg op vyf aanklagte van moord, een van poging tot moord en aanklagte wat verband hou met dronkbestuur.
Langa is in Oktober borgtog van R80 000 toegestaan. Langa, wat ook Amerikaanse burgerskap het, moes as deel van sy borgtogvoorwaardes albei sy paspoorte en sy rybewys inhandig.
Die drawwers wat in die ongeluk dood is, is Given Mills, Nomvula Dumeko, Reneilwe Lesenyeho, Moroesi Mokoatsi en Isaac Tlale.
Die saak is tot Donderdag uitgestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA