Drankverkope dalk net vir dié bo 21
2012-03-09 09:15
Johannesburg – Die wettige ouderdom vir die gebruik van alkohol moet van 18 tot 21 jaar verhoog word omdat Suid-Afrika ’n krisispunt bereik het weens alkoholmisbruik onder die jeug, meen die regering.
“Wat ons nou sien is nie goed nie. Nadat matrikulante eksamen geskryf het, gaan hulle uit en drink heeltemal te veel,” het Elizabeth Thabethe, adjunkminister van handel en nywerheid, Donderdag in Midrand by die nasionale konferensie vir die regulering van alkohol gesê.
“Ons wil die wettige ouderdom vir drankgebruik tot 21 verhoog omdat ons glo dit sal baie probleme oplos.”
Die regering het reeds verlede jaar begin ondersoek instel na dié moontlikheid.
In ’n peiling van die maatskappy Synovate verlede jaar het 90% van respondente gesê drankmisbruik onder minderjariges in Suid-Afrika is ’n probleem en 60% het gesê dit sal afneem as die wettige ouderdom verhoog word.
Thabethe het gesê alkohol is nie ’n kommoditeit soos enige ander nie en moet daarom anders gehanteer en gereguleer word.
Alkoholmisbruik in Suid-Afrika neem steeds toe en dit verg drastiese optrede, het sy gesê.
Kroeë naby skole is ook ’n probleem.
“Dit is te maklik vir kinders om alkohol in die hande te kry. Ons sal geen simpatie vir onwettige handelaars (naby skole) hê nie en hul deure eenvoudig sluit.”
Hoewel wysigings aan die Wet op Drankprodukte beplan word, het Thabethe gesê die regering sal nie oorhaastige besluite neem nie.
“Ons kan dié kwessie nie afjaag nie. Ons sal die publiek raadpleeg.”
Die demografiese digtheid van drankwinkels, hul ure en drankadvertensies is ook bespreek.
“Ons sê steeds dit is nie reg om alkohol te bevorder soos ons dit in Suid-Afrika doen nie.”
Volgens Thabethe beskou die departement dit as ’n laaste uitweg om drankadvertensies te verbied en moedig hulle eerder verantwoordelike bemarking aan.
Sy het ook gesê dit is belangrik om die voortbestaan van handelaars in die bedryf te verseker.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld