Drankverbod: ‘Sport gaan ly’
2010-12-23 08:49
Johannesburg - ’n Verbod op drankreklame sal nie drankmisbruik verminder nie, maar sal gevolge hê vir sport wat op borgskappe staatmaak.
Adrian Botha, woordvoerder van die bedryfsvereniging vir verantwoordelike alkoholgebruik, het gesê daar was geen feitelike bewyse dat drankadvertensies tot drankmisbruik lei nie.
Botha het gesê baie navorsing is gedoen oor die invloed van advertensies op drankgebruik.
“’n Verbod op radio-drankreklame in Swede, Denemarke en Finland het nié tot ’n vermindering in drankinname gelei nie,” het Botha gesê.
Dr. Aaron Motsoaledi en me. Bathabile Dlamini, onderskeidelik minister van gesondheid en van maatskaplike ontwikkeling, het verlede week hul planne om drankreklame te verbied tydens ’n mediakonferensie in Johannesburg aangekondig.
“Ons het drastiese wetgewing nodig om alkoholmisbruik te bekamp en die bedryf strenger te reguleer,” het Dlamini gesê.
Suid-Afrika het in 1999 wetgewing in werking gestel wat sigaret- en tabakadvertensies, -promosies en -borgskappe verbied.
Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) is een van die grootste sportborge in die land. Verlede jaar het die brouery die Britse en Ierse Leeus se toer geborg.
Dié R25 miljoen-borgskap was die grootste ooit in die geskiedenis van Springbok-rugby.
Die SAB is ook een van die grootste borge van die Proteas.
Kass Naidoo, woordvoerder van Krieket Suid-Afrika (KSA), het gesê die departement van gesondheid het hulle nog nie amptelik in kennis gestel van enige verbod op borgskappe of advertensies nie.
“Ons is nie op die oomblik in ’n posisie om kommentaar te lewer op die ministers se uitlatings nie,” het Naidoo gesê.
Sy het gesê KSA waardeer die rol wat borge in krieket speel.
“Ons wil seker maak dat enige kommentaar wat ons lewer feitelik korrek is,” het Naidoo gesê.
Asyia Sheik, woordvoerder van die drankverskaffer Brandhouse, het gesê die verskaffer is verbind tot verantwoordelike drankgebruik.
“Indien drank verantwoordelik gebruik word, is dit gewoonlik om dit te geniet of iets te vier. Ons besef tog dat onverantwoordelike en oormatige gebruik probleme kan veroorsaak,” het Sheik gesê.
Brandhouse het onlangs ’n mediaveldtog van stapel laat loop wat gegrond is op navorsing wat gevind het dat die vrees vir tronkstraf meer mense nugter hou op die pad as die vrees vir ’n ongeluk.
In die TV-insetsel sien die kyker ’n “afspraakvideo” waarin hubare mans hulself voorstel en vertel wat hulle in ’n verhouding verwag.
Die kamera wys dan die groter prentjie: Die mans is saam met ander gevangenes in ’n tronk.
Die trefreël is: “Jy wil nie dié mans ontmoet nie. Besluit om nie te drink en bestuur nie.”
Die SAB het ook ’n vennootskap met die departement van maatskaplike ontwikkeling aangegaan om verantwoordelike drankhandel te bevorder.
Volgens dr. Vincent Maphai, die SAB se direkteur van korporatiewe dienste, glo dié maatskappy dat drankprodusente ’n verpligting het om drankmisbruik te voorkom.
- Volg Nuus24 op Twitter.