Drankreklame in spervuur
2010-12-16 07:20
Johannesburg – Advertensies vir drank gaan verbied word en ’n moratorium gaan op die uitreiking van verdere dranklisensies geplaas word.
Daarby oorweeg die regering om bestuurders te verbied om hoegenaamd enige alkohol in te neem voordat hulle agter die stuurwiel inskuif.
Die verbod op drankreklame kan ’n drastiese impak op sportborgskappe hê. SAB is byvoorbeeld een van die grootste borge van sport in Suid-Afrika. Die maatskappy het verlede jaar R23miljoen vir die Britse en Ierse Leeus se rugbytoer na die land opgedok. Die maatskappy borg ook krieket en sokker.
Dr. Aaron Motsoaledi en Bathabile Dlamini, ministers van onderskeidelik gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, het die jongste planne gister op ’n nuuskonferensie in Johannesburg aangekondig. “Ons het drastiese wetgewing nodig om alkoholmisbruik te bekamp en die bedryf strenger te reguleer,” het Dlamini gesê.
Motsoaledi het gesê drankadvertensies gaan “dieselfde paadjie as sigaretadvertensies loop”.
Suid-Afrika het in 1999 wetgewing in werking gestel wat sigaret- en tabakadvertensies, -promosies en -borgskappe verbied.
Die twee ministers het gesê hul departemente sal volgende jaar met stappe begin om die drankmaatreëls in wetgewing vervat te kry.
’n Moratorium op dranklisensies sal in effek beteken geen nuwe kroeë sal hul deure kan open nie en nuwe restaurante sal geen drank mag bedien nie.
Tans is die wettige alkoholperk vir motoriste 0,05mg per 100ml bloed. Dit is sowat twee glase wyn, twee sopies sterk drank of twee biere.
Nou wil die regering egter hê dit moet onwettig vir bestuurders wees om met enige alkohol in hul bloed te bestuur.
“’n Dronk bestuurder wat iemand se dood veroorsaak, kan nie wegkom met ’n boete nie,” het Dlamini gesê.
Die Phuza Wize (drink veilig) -veldtog, ’n vennootskap tussen die regering en die Soul City-projek om veilige alkoholgebruik te bevorder, is ook op die nuuskonferensie van stapel gestuur.
Motsoaledi meen egter die veldtog se boodskap is nie genoeg nie.
“Die boodskap moet verder gaan as om te sê mense moet verantwoordelik drink. Dit behoort te wees dat hulle glad nie moet drink nie,” het hy gesê.
Adrian Botha, woordvoerder van die Bedryfsvereniging vir Verantwoordelike Alkoholgebruik, het gesê daar is geen feitelike bewyse dat drankadvertensies tot drankmisbruik lei nie.
“’n Verbod op drankadvertensies is nie die antwoord nie. Die helfte van drank wat wêreldwyd gedrink word, word nie geadverteer nie. Al wat ’n verbod sal bereik, is om bekende handelsname se posisie te versterk.”
Brandon Foot, Supersport se hoof van aankope en regsaangeleenthede, het gesê die voorstel oor die verbod op drankreklame is nie nuut nie, maar sal ernstige gevolge vir sport en toeskouers hê.
SAB het in ’n verklaring gesê hy het ’n vennootskap met die departement van maatskaplike ontwikkeling aangegaan om verantwoordelike drankhandel te bevorder.
Vincent Maphai, SAB se direkteur van korporatiewe dienste, het gesê dié maatskappy glo daaraan dat alkoholvervaardigers ’n verpligting het om skadelike drankverbruik en -misbruik te voorkom.
“Alkoholvervaardigers is gewillig en gereed om ’n vennootskap aan te gaan met groepe en organisasies wat drankmisbruik wil bekamp.”
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad