Drankmisbruik kos staat baie
2010-05-19 07:23
Hilda Fourie, Beeld
Drankmisbruik het die belastingbetaler in die 2009-’10-boekjaar sowat R17 miljard gekos.
So lui ’n artikel in die Maart-uitgawe van Crime Quarterly, die Instituut vir Sekerheidstudie se kwartaalblad .
Volgens Debbie Budlender, statistikus wat dié artikel geskryf het, is die studie gedoen om te bepaal watter regeringsuitgawes direk met drankmisbruik verbind kan word.
Budlender het geskryf dat drankmisbruik die nasionale regering in die 2009-’10-boekjaar R10 miljard gekos het, terwyl dit die provinsiale regerings R7 miljard uit die sak gejaag het.
Die artikel fokus op die begrotingstoedelings van die departemente van veiligheid en sekuriteit (polisie), gemeenskapsbeveiliging en maatskaplike misdaadvoorkoming, justisie en konstitusionele ontwikkeling en korrektiewe dienste.
In die studie is die departemente van gesondheid, maatskaplike ontwikkeling, vervoer en ekonomiese ontwikkeling ook in ag geneem.
Regerings se begrotingsverwante dokumente is gebruik.
Wat betref die departement van veiligheid en sekuriteit is sub-programme wat aktiewe polisiëring en ondersoek behels ook ingesluit.
Die polisie se misdaadsyfers vir die tydperk van April 2008 tot Maart 2009 het getoon 9% van aangemelde misdaad was in die kategorie wat baie afhanklik is van polisiewaarneming.
Bestuur onder die invloed van drank en dwelms val in dié kategorie.
“In ’n werksessie in 2009 waaraan Wes-Kaapse stasiebevelvoerders deelgeneem het, het hulle bevestig 90% van misdaad kan met drank verbind word.”
Luidens dié artikel het dié nasionale departement die afgelope boekjaar sowat R5,8 miljard bestee weens drankmisbruik.
Dié misdade moet ondersoek word en daarbenewens behels sekere misdaadbestryding polisiewaarneming.
Luidens die artikel het byna 20% van vermeende misdadigers gesê hulle was onder die invloed van drank tydens die misdaad.
In die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling is sowat R335,2 miljoen bestee, en in die departement van korrektiewe dienste R3,35 miljard.
Die provinsiale departemente van gemeenskapsveiligheid en misdaadvoorkoming het sowat R43,9 miljoen bestee weens drankmisbruik.
-Beeld
Volg Beeld op Twitter.