Dramatiese dag vir Zuma
2011-10-25 07:02
Kaapstad – Die koppe het Maandag gerol op die mees dramatiese dag tot nog toe van pres. Jacob Zuma se bewind.
Zuma het twee omstrede kabinetslede afgedank, die nasionale polisiehoof geskors en die name van die regterlike kommissie van ondersoek na die wapentransaksie aangekondig.
Sicelo Shiceka en Gwen Mahlangu-Nkabinde, ministers van onderskeidelik samewerkende regering en tradisionele sake en van openbare werke, is afgedank, en genl. Bheki Cele is as polisiehoof geskors hangende die bevindings van ’n kommissie van ondersoek.
Zuma het dus opgetree teen die drie magtigste openbare rolspelers teen wie adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, bevindings oor die vermorsing van staatsgeld gemaak het.
Hy het ook Roy Padayachie, minister van kommunikasie, uit sy portefeulje verskuif. Padayachie het al erg deurgeloop oor sy voorliefde vir luukse hotelverblyf.
Zuma het twee nuwe ministers en twee nuwe adjunkministers aangestel, en twee ministers sowel as twee adjunkministers na ander portefeuljes verskuif.
Zuma het volle mag om die kabinet aan te stel en af te dank soos hy wil, maar het nie die mag om dieselfde met Cele te doen nie.
’n Kommissie van ondersoek onder leiding van ’n gerespekteerde voormalige regter in die konstitusionele hof, regter Yvonne Mokgoro, sal aanbevelings oor Cele se lot maak.
Cele het gisteraand gesê hy aanvaar die president se besluit.
Die betreklik onbekende genl.maj. Nhlanhla Mkhwanazi, hoof van die polisie se taakmag-eenheid, sal in sy plek waarneem.
Die kommissie wat die wapentransaksie gaan ondersoek, staan onder leiding van regter Willie Seriti van die appèlhof.
Die ander twee lede is regters Willem van der Merwe (wat Zuma destyds op ’n aanklag van verkragting vrygespreek het) en Francis Legodi.
Die kommissie het twee jaar om die wapentransaksie te ondersoek, wat beteken die ondersoek sal eers ná die ANC se leiersverkiesing aanstaande Desember in Bloemfontein afgehandel word.
Die bevindings sal dus geen invloed hê op Zuma se kanse om as ANC-leier herkies te word nie.
Shiceka en Mahlangu-Nkabinde het die nuus glo tuis verneem, terwyl Padayachie oorsee gekontak is.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger