Drama ná werker klere moes uittrek
2010-07-05 23:00
Johannesburg – ‘n Bekende hotel-maatskappy ondersoek ‘n voorval waartydens ‘n vrou al haar klere moes uittrek en haar geslagsdele deursoek is, nadat sy van diefstal verdink is.
Sun International het Maandag in ‘n verklaring gesê dat die voorval by die Gatsby internasionale gesondheidspa plaasgevind het.
Die voorval is op 29 Junie onder die aandag van Jo Kentgens, operasionele direkteur, gebring.
“Kentgens het dadelik ‘n volledige ondersoek van stapel gestuur en aangebied dat die werknemers wat betrokke was berading ontvang. Die nodige stappe sal geneem word nadat die ondersoek afgehandel is.”
Volgens Sun International was die betrokkenes nie werknemers van Sun International of Sun City nie maar wel Gatsby International.
Die voorval het glo plaasgevind sonder dat Sun City daarvan geweet het.
Die vakverbond Cosatu is egter van mening dat Sun City se bestuur sowat ‘n maand gelede van die voorval verneem het, maar dat hulle niks omtrent dit gedoen het nie.
“Na bewering het die sekuriteitsmaatskappy die vrou “verneder” nadat sy daarvan verdink is dat sy R400 uit ‘n gas se hotelkamer gesteel het,” het Cosatu in ‘n verklaring gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA