Dorp geskok oor moord op egpaar
2013-01-16 09:09
Kaapstad – Die polisie is nog op soek na ‘n groep wat ‘n bejaarde egpaar by ‘n plaashuis buite Parys in die Vrystaat vermoor het.
Volksblad berig die gemeenskap het geskok gereageer op die dubbele plaasmoord op Ernst van Rooyen (75) en sy vrou, Annetjie (74).
OFM het vroeër berig die egpaar se lyke is in 'n snoepwinkel, wat hulle uit hul motorhuis bedryf het, gevind.
Die vrou se lyk is glo in ‘n kisvrieskas gevind, terwyl die man se lyk op die vloer van die snoepwinkel gekry is.
Thandi Mbambo, ‘n polisiewoordvoerder, sê die egpaar se huishulp het op die gru-toneel afgekom.
Mbambo sê items is uit die huis gesteel.
Dié moord kom enkele dae nadat ‘n bejaarde egpaar van Belfast, Mpumalanga, ook vermoor en in ‘n vrieskas gedruk is.
Die nuusagentskap Sapa berig twee verdagtes is reeds in verband met dié gru-moord op Rudolph van Heerden en sy vrou, Elma, vasgetrek.
Die egpaar, wat albei 79 jaar oud was, is met 'n stomp voorwerp oor die kop geslaan. Hul hande en voete is ook met kabels vasgebind.
Volg Nuus24 op Twitter