Werkers: Haas-dood agter myn-slagting
2012-08-25 10:52
As hulle na die toordokter geluister het en nie ’n sekere haas doodgemaak het nie, sou die skietery by die Marikana-myn nooit plaasgevind het nie.
Dit is die opinie van een mynwerker, Khabo Khabo, het die Saturday Star berig.
"Die tradisionele geneesheer het ons verskeie kere gewaarsku om niks aan die haas te doen nie, maar ons het die dier rondgejaag en uiteindelik vrekgemaak," het Khabo aan die koerant gesê.
Die geneesheer het na bewering die stakende mynwerkers verseker dat die polisie se gewere nie sou werk nie, mits hulle sy muti gebruik.
"Ek glo steeds dat, was dit nie vir die tradisionele geneesheer nie, sou baie meer mense daai dag doodgegaan het," het Khabo gesê.
"As ons die haas laat leef het, sou niemand doodgegaan het nie."
Volgens die koerant het een ander werker Khabo se woorde vroeër vandeesweek beaam tydens 'n begrafnisseremonie vir die oorledenes.
Stakende mynwerkers in Marikana, Rustenburg, het glo aggressief geraak nadat die geneesheer, 'n ene Nzabe uit die Oos-Kaap, se moetie gedrink het, het die Daily Dispatch berig.
Hulle het kort daarna met die polisie gebots. Altesaam 34 mynwerkers het tydens die botsing gesterf en 78 ander is beseer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA