Don (15) oefen vir gimkana ná drie moorde
2012-04-12 08:00
Griekwastad – Donderdag se troosdiens vir die Steenkamp-egpaar en hul tienerdogter gaan vir hom ’n baie moeilike diens wees om te lei, sê ds. Piet Otto van die NG kerk Griekwastad.
Die diens vir Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43) en hul dogter, Marthella (14), wat in hul plaashuis doodgeskiet is, is om 11:00. Hulle sal later veras word.
Op Goeie Vrydag het hulle as gesin nog in die Paasdiens in die einste kerk gesit. Later die aand is hulle in hul huis doodgeskiet.
Die enigste oorlewende van die gesin is Don Steenkamp (15). Hy sal die troosdiens vir sy ouers en suster saam met familielede bywoon, het Andries Steenkamp, sy oom en voog, Woensdag gesê.
“My vrou het eergister (Dinsdag) met hom gepraat. Hy het gesê hy gaan ná die begrafnis na ons toe kom. Hy oefen tans by Ben Heckroodt vir die gimkana-byeenkoms en toetsreeks teen Australië wat op 24 April in Oos-Londen begin.”
Wyle mnr. Steenkamp het sy eie kinders en die Suid-Afrikaanse junior gimkana-meisiespan afgerig.
Oor Donderdag se diens se die predikant: “Ek sal konsentreer op die drie wonderlike lewens wat so tragies beëindig is.
“Dit is baie erg dat hulle juis vermoor is. Hulle was almal steunpilare in die gemeenskap.”
Patoloë het die drie vermoordes se lyke Woensdag in Bloemfontein vir forensiese getuienis ondersoek. Speurders van die Valke wat hul skietdood ondersoek, was teenwoordig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld