Dominee was 'platgeslaan' oor seun se bedrogklag
2012-11-13 10:24
Harrismith – Ds. Willem Brits was platgeslaan toe sy seun Martin in 2007 aan bedrog skuldig bevind is en tronkstraf opgelê is, het 'n vriend aan OFM gesê.
Martin is in Mei vanjaar op parool vrygelaat.
Paul van der Merwe, 'n vriend van die vermoorde Brits, het gesê hy (Brits) het verskeie terugslae in sy gesinslewe beleef, maar die bedrogsaak was die bitterste pil om te sluk.
Van der Merwe het verder gesê Brits was 'n deernisvolle mens.
Hy sê die feit dat al vier Brits se kinders aangeneem was, het net goeie dinge van hom weerspieël, en as hy vandag nog moes leef, sou die jongste gebeure hom gebreek het.
Die dominee en sy aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen, is verlede week in sy pastoriehuis vermoor en sy vrou, Dorothea, is erg aangerand.
Martin en Elliot Mhlambi, wat hy in die tronk ontmoet het, is weens die moorde in hegtenis geneem en sal weer op 19 November in die hof verskyn.
– OFM
– Volg Nuus24 op Twitter