Dominee kry hart vir Kersfees
2009-12-28 11:42
Marelize Potgieter
Kaapstad - Kersvader het vanjaar hier ’n polsende hart en ’n tweede kans op die lewe vir ’n dominee gebring.
Dr. Anton Jordaan (51), ’n voormalige “hospitaalpredikant” van die Steve Biko-hospitaal in Pretoria, het op Oukersdag ’n hartoorplanting in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad gekry.
Hy was Sondag, slegs twee dae ná die operasie, op en wakker en opgewonde oor sy nuwe lewe.
Jordaan is agt jaar gelede met kardiomiopatie, ’n verswakte hartspier, gediagnoseer. Hy moes twee jaar gelede ophou werk weens sy swak gesondheid.
Op Oukersdag het hy die goeie nuus gekry dat daar vir hom ’n geskikte skenker is.
Hy en sy vrou, Hanlie, het onmiddellik na Kaapstad vertrek en omstreeks 19:00 hier geland. Teen 01:00 (Kersoggend) was die vier uur lange operasie afgehandel.
“Die grootste emosie wat ek ervaar, is dankbaarheid. Ek is dankbaar teenoor die Here, die skenker, die dokters, die hospitaalpersoneel en die verpleërs. Hulle is engele.”
Hy ervaar nog effense ongemak, maar oor die algemeen voel hy goed.
Hy het Sondag al sy eerste treë gegee.
Volgens Jordaan is dié hart, naas Jesus Christus as sy verlosser, die grootste Kersgeskenk wat hy nog ontvang het.
“Die grootste gemis in my lewe was die vermoë om te kon werk en die gebrek aan mobiliteit,” het Jordaan gesê.
“Ek was konstant moeg en kon byvoorbeeld nie eers my vrou help om die kruideniersware te dra nie.”
Hy hoop om so gou as moontlik weer by die bediening betrokke te raak.
Jordaan sal vir die volgende drie maande ’n intense rehabilitasieprogram volg.
Volgens dr. Willie Koen, hoof van die oorplantingseenheid van die hospitaal, was Jordaan baie siek. “Hy sou waarskynlik nie meer baie langer gelewe het nie.”
Volgens hom kan die dominee volkome herstel en ’n aktiewe lewe lei. “Voor my pasiënte die rehabilitasieprogram voltooi, moet hulle in staat wees om Tafelberg uit te klim.”
Hanlie Jordaan is ’n politieke-analis en hul dogter, Angelika (21), is ’n student aan Tukkies.
Volgens Koen is daar vanjaar 30% minder orgaanoorplantings as in die verlede gedoen. “Skenkers raak al hoe minder en waglyste al hoe langer.”
Michelle Norris, woordvoerder van die hospitaal, het gesê mense wat meer oor orgaanskenking wil uitvind, kan hul tolvrynommer by 0800 22 6611 skakel.
- Die Burger