Dokters sê nie wanneer Madiba ontslaan word
2012-12-14 17:44
Johannesburg – Dokters het geen inligting verskaf oor wanneer oudpres. Nelson Mandela uit die hospitaal ontslaan word nie, het die presidensie gesê.
Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het gesê Mandela het teen laat Vrydagmiddag nog behandeling in die hospitaal ontvang.
"Die dokters wat na oudpresident Nelson Mandela omsien, het gesê hy het 'n gemaklike 24 ure gehad en dat hy steeds in die hospitaal behandel word."
Maharaj het Vrydagoggend in 'n radio-onderhoud gesê die regering het nie die media of die land probeer mislei oor die hospitaal waar Mandela opgeneem is nie.
Dít volg nadat daar vasgestel is dat Mandela nie by die 1 Militêre Hospitaal behandel word nie, maar wel in 'n vooraanstaande private hospitaal in Pretoria.
Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het Maandag buite 1 Militêre Hospitaal aan verslaggewers gesê hy is daar opgeneem.
"Die minister sal vir haarself verduidelik, maar daar is geen strategie van die regering om die publiek te mislei nie," het Maharaj oor Mapisa-Nqakula gesê.
Mandela is verlede Saterdag in die hospitaal opgeneem en ontvang behandeling vir 'n herhaalde longinfeksie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA