Dokters in Oos-Kaap 'steel' staat se tyd
2011-08-26 10:02
Oos-Kaap – Dokters in die Oos-Kaap is beveel om nie by hul privaatpraktyk te wees wanneer hulle in diens van die staat moet wees nie, het Dispatch Online Vrydag berig.
Dokters skeep hul pligte by hospitale en klinieke af, terwyl hulle op ander plekke geld maak, het dr. Siva Pillay, superintendent-generaal van die departement van gesondheid, gesê.
Hy het gesê meer as 40% van alle staatspesialiste doen privaatwerk in die provinsie.
'n Opname deur die departement het bevind dat twee spesialiste R781 000 en R421 000 van mediese fondse geëis het vir werk wat tussen Januarie en Junie gedoen is.
Die opname, wat op Mthatha gefokus het, het bevind dat mediese fondse in dié tydperk, rekeninge wat R8 miljoen beloop, ontvang het.
"Dit is malligheid. Hulle is veronderstel om vir die departement te werk, maar intussen behandel hulle privaat pasiënte," het Pillay gesê.
"Wat gebeur tydens 'n noodgeval?"
Die departement sal nie aanklagte teen die skuldiges bring nie, maar sal die beleid oor betaalde werk buite die openbare diens aanpas.
"Ons gaan dit aanpas. Dit strenger maak. Die regering sal van nou af prioriteit geniet," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA