Dokters by hospitale ís betaal – departement
2013-02-04 11:48
Johannesburg – Dokters in Gautengse openbare hospitale ís betaal vir die oortyd wat hulle gewerk het, het die provinsiale departement van gesondheid Maandag gesê.
"Ek verstaan nie waar die bewerings vandaan kom dat hulle nie betaal is nie. Die openbare diensregulasies is duidelik oor die betaling van oortyd aan gesondheidswerkers," het Simon Zwane, woordvoerder, gesê.
Jack Bloom, DA-woordvoerder vir gesondheid, het Maandag gesê dokters by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto en dié by die Pholosong-, Verre Oosrandse en OR Tambo-gedenkhospitaal is nie betaal nie.
Dokters by Baragwanath het vir Januarie vanjaar glo nog geen betalings ontvang nie, terwyl dié by die Ekurhuleni-hospitale sedert September verlede jaar nie betaal is nie.
"Hulle het besluit om nie meer oortyd te werk nie, omdat hulle nie betaal is nie. Dit gaan dienste by hospitale negatief beïnvloed en ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie," het Bloom gesê.
Zwane het gesê ingevolge regulasies mag die eis vir oortyd nie meer as 30% van die persoon se salaris oorskry nie.
Indien die oortyd meer as 30% van die salaris is, moet die dokter aan die departement verduidelik hoekom dit oorskry is en bewyse verskaf.
"Motivering vir dié soort betalings is nog nie van sommige hospitale ontvang nie. Dit is hoe dit gedoen moet word, anders gaan almal betaling vir oortyd eis," het Zwane gesê.
Hy het verder gesê hospitaalbestuurders is bewus van die reëls en hoe dit toegepas moet word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA