Dokter sterf voor seun ná buffel hom bestorm
2012-01-18 07:01
Pretoria – ’n Dokter van Pretoria is Dinsdagoggend voor sy seun dood nadat ’n buffel hom op sy wildsplaas aangeval het.
Dr. Willie Cronjé (44), wat ’n mediese praktyk in Queenswood gehad het, was ’n deeltydse wildboer.
Hy het graag tyd op sy plaas Uitkyk, sowat 20 km van Boshof in die Vrystaat, deurgebring.
Cronjé en sy seun, Willem (18), was Dinsdag saam met ’n plaaslike veearts op die plaas.
Die veearts het twee buffels verdoof om bloedtoetse te doen voordat hulle verkoop sou word.
Beeld se rubriekskrywer Blou Willem Theron van Pretoria, ’n vriend van die gesin, het gesê een van die buffels het in die boma wakker geword en op Cronjé afgestorm.
Cronjé wou glo ’n hek in die boma toemaak om te keer dat die buffel in ’n verkeerde drukgang ingaan.
Hy is op die toneel dood.
Theron sê Cronjé was ook ’n bekende en gewilde dokter in Polokwane, Limpopo, voordat hy en sy gesin twee jaar gelede na Pretoria verhuis het.
“Ons het ’n groot man verloor. Dis baie swaar en hartseer vir die gesin,” het Theron gesê.
Cronjé laat ook sy vrou, Liesl, ’n dogter, Elisma (16), en sy ouers, Willie en Cora Cronjé, agter.
’n Geregtelike ondersoek na Cronjé se dood word ingestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld