Dokter in hof vir bedrog
2012-01-23 20:56
Johannesburg – ‘n Noord-Kaapse dokter sal na verwagting Woensdag weer in die hof verskyn nadat hy na bewering die departement van arbeid se Vergoedingsfonds uit R700 000 bedrieg het.
Die departement het Maandag gesê dr. Tebogo Ephraim Kaeletsa van Pampierstad het na bewering vorms ingehandig vir pasiënte wat hy volgens hom behandel het. Hy het hulle egter nooit behandel nie.
Jabu Zwane, ‘n beampte van die internasionale organisasie PKF, wat besighede adviseer, het tydens Kaeletsa se vorige verskyning aan die hof gesê hy het vrywillige verklarings van die dokter gekry wat die verdenking op hom laai.
PFK is deur die departement van arbeid se Vergoedingsfonds gekontrakteer.
Zwane het in Oktober getuig die beskuldigde is nie gedwing om verklarings af te lê wat hom sou inkrimineer in die misdaad nie. Kaeletsa se regsverteenwoordiger, Samuel Molele, het gesê Zwane het sy kliënt met inhegtenisneming gedreig indien hy nie die verklaring sou aflê soos Zwane voorgeskryf het nie.
Zwane het aan die hof gesê hy het in dié stadium namens die departement van arbeid opgetree en die bewerings van bedrog teen Kaeletsa ondersoek. Hy het getuig hy het nie aan Kaeletsa gesê die verklarings wat afgelê is sou later in die hof teen hom gebruik word nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA