Dobbelspeletjie op web nou onwettig
2011-09-30 09:11
Johannesburg – Duisende Suid-Afrikaners wat aan die gewilde Piggs Peak-dobbelspeletjies op die internet deelneem, doen dit sedert Donderdag onwettig en hulle kan waarskynlik daarvoor vervolg word.
Vyf appèlregters het bevind dat Piggs Peak, wat deur die maatskappy Casino Enterprises uit Swaziland bedryf word, ’n onwettige dobbelspel in Suid-Afrika is omdat die maatskappy geen lisensie het om in Suid-Afrika dobbelary te bedryf nie.
Die maatskappy het wel so ’n lisensie in Swaziland.
Appèlregters J. Heher, V. Ponnan, W. Seriti, C. Plasket en J. Petse het eenparig bevind dat selfs die Suid-Afrikaanse media geen advertensie wat Piggs Peak of die maatskappy reklameer, mag dra nie.
Hoewel Swaziland in hierdie geval ter sprake is, sal die appèlregters se uitspraak van toepassing wees op enige dobbelary waar mense in Suid-Afrika op die internet aan dobbelary deelneem wat buite die landsgrense bedryf word.
Casino Enterprises het baie hard probeer om die appèlregters daarvan te oortuig dat Piggs Peak in Swaziland wettig is en dat alle internet-deelnemers in Suid-Afrika dus in werklikheid in Swaziland dobbel, omdat die hele Piggs Peak-bedryf in Swaziland gesetel is.
Maar, het die appèlregters gesê, dit werk nie so nie. Die Nasionale Dobbelraad en die Gautengse Dobbelraad het ten regte betoog dat wanneer ’n Suid-Afrikaner binne Suid-Afrika se grense op die rekenaar op die spin-opdrag op sy skerm kliek, dobbel so ’n mens binne Suid-Afrika se grense.
Al is die hele rekenaaropset van Piggs Peak dus in Swaziland, beteken dit absoluut niks voordat iemand in Suid-Afrika nie die spin-opdrag kliek en daarmee sy geld op ’n betrokke dobbelspel verwed nie. Die dobbelary is dus in Suid-Afrika gesetel.
“Die Suid-Afrikaanse speler word dus in Suid-Afrika ‘verlei’, die speler neem die belangrike besluit om te dobbel in Suid-Afrika en die speler word hier in Suid-Afrika van sy geld ontneem as hy nie wen nie.”
Boonop oortree Piggs Peak op die terrein van gelisensieerde dobbelplekke in Suid-Afrika en betaal hulle ook geen belasting aan die Suid-Afrikaanse regering nie.
“Omdat sowel die Suid-Afrikaanse dobbelaar as die Swazilandse maatskappy die Suid-Afrikaanse dobbelwette oortree, word advertensies in die Suid-Afrikaanse media oor Piggs Peak dus ook verbied.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad