Dlamini-Zuma huil oor selfmoord
2009-08-29 11:13
Johannesburg – Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van binnelandse sake, was geskok deur die nuus dat ‘n man wat aansoek gedoen het vir ‘n identiteitsdokument (ID), selfmoord gepleeg het nadat daar aan hom gesê is hy is ‘n buitelander, het haar woordvoerder gesê.
“Ek werk al baie jare vir haar en dit was die eerste keer wat ek die minister hoor huil het,” het Ronnie Mamoepa gesê.
Hy het gesê dat ‘n 22-jarige man ‘n werk aangebied is en sou Maandag begin, op die voorwaarde dat hy ‘n ID kan wys.
Hy het na die departement van binnelandse sake gegaan om aansoek te doen, maar daar is aan hom gesê dat hy ‘n buitelander is en sy papiere is opgeskeur.
Hy het die amptenaar gesmeek en gesê dat hy sy nuwe werk Maandag moet begin.
“Daardie jong man het gisteraand selfmoord gepleeg,” het Mamoepa gesê.
Dlamini-Zuma sal meer inligting oor die voorval, sowel as hoe sy beplan om die saak te ondersoek, gedurende haar besoek Saterdagoggend aan Umzimkhulu in KwaZulu-Natal gee.
“Sy het met die familie gepraat en ‘n direkteur-generaal na die familie uitgestuur.”
Sy beplan ook om die voorval te ondersoek.
“Sy het net daar gesit en huil en gesê sy het ‘n 22-jarige dogter,” het Mamoepa oor die minister gesê.
- Sapa