Besluit om Fred te vervolg nie in polisie se hande
2011-09-02 09:26
Kaapstad – Die besluit om Fred van der Vyver in 2005 te vervolg was nie in die polisie se hande nie, maar uitsluitlik die besluit van die direkteur van openbare vervolging (DOV).
Dit is onafhanklik van die polisie gedoen.
Só voer die minister van polisie aan in sy hofstukke om verlof tot appèl wat Donderdagmiddag by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien is.
Regter Anton Veldhuizen het sowat twee weke gelede beslis Van der Vyver (28) is kwaadwillig vervolg vir die moord op Inge Lotz.
Van der Vyver het die minister van polisie vir sowat R46 miljoen gedagvaar nadat hy in November 2007 deur regter Deon van Zyl op ’n aanklag van moord vrygespreek is.
Veldhuizen het in sy uitspraak veral harde woorde vir oudkapt. Bruce Bartholomew gehad. “Bartholomew het hom met die nodige opset skuldig gemaak aan die aanstigting van vervolging,” het Veldhuizen bevind.
Bartholomew het destyds getuig Van der Vyver kon met Lotz se moord verbind word deur ’n skoenafdruk in haar badkamer.
Die polisie het gesê Veldhuizen het egter ’n fout gemaak deur te bevind dat ’n kousale verband tussen Bartholomew se mening en die voortsetting van die vervolging bestaan het, omdat die DOV volgens Veldhuizen in ’n meerdere of mindere mate op die mening van Bartholomew gesteun het om die staat se saak te bewys.
“Daar is geen feitebasis vir sodanige bevinding nie en dit behels inderdaad ’n aanname wat teenstrydig is met adv. Christénus van der Vijver (staatsaanklaer in strafsaak) se getuienis daaroor”.
Die DOV het geweet dat daar ernstige bedenkinge oor die betroubaarheid van Bartholomew se mening uitgespreek is. Dit sou beslis nie die vervolging gestaak het nie, en die DOV sou steeds met die vervolging voortgegaan het omdat hulle op ander omstandigheidsgetuienis sou steun, lui die polisie se hofstukke.
Die aansoek sal later voor Veldhuizen aangehoor word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger