Dit klop dat dit klap in Kaap
2011-01-03 09:53
Die Burger
Kaapstad – Vanjaar se Kaapse Klopse-optog het gesorg vir groot ongelukkigheid toe toeskouers byna vier uur moes wag vir die optog om te begin.
Op Nuwejaarsoggend het reën oor die grootste deel van die Skiereiland uitgesak, asook in die middestad waar die troepe moes loop. Die optog was veronderstel om teen 11:00 te begin, maar van die eerste groepe het net voor 15:00 die roete vanaf Keizergracht begin loop.
Me. Kylie Hatton, woordvoerder van die Stad Kaapstad, het gesê die reën was die hoofrede vir die laat begin. “Nie net was dit die reën nie, maar van die Klopse-groepe het ook laat opgedaag.”
Hatton het gesê groepe wat nie betyds vir die optog opdaag nie is ’n probleem wat al jare opduik.
Geen gewelddadige voorvalle het in dié tyd plaasgevind nie.
Altesaam 75000 toeskouers en 44 groepe (sowat 30000 Klopse) het Saterdag tot omstreeks 22:00 deur die Kaap se strate geloop.
Ondersteuners het met strandstoele, sambrele en komberse langs die staproete uitgespan.
Jannie du Toit van Somerset-Wes het dié jaarlikse gebeurtenis vanjaar vir die 19de keer ondersteun. “Vanjaar se optog het heeltemal te laat begin. Ons het vir baie lank gestaan en wag en die tye tussen die groepe was ook te lank.”
Du Toit het verder gesê behalwe vir die probleme met die tye was alles anders perfek. “Die sekuriteit was uitstekend. Ons het niemand sien baklei nie en het baie veilig gevoel.”
Annelia Preiss, ook van Somerset-Wes, het gesê sy hoop hulle sal in die toekoms meer van die tradisionele kosse langs die pad verkoop. “Ons soek kosse soos gepekelde vis, soetkoekies en gemmerbier om die ervaring meer eg te maak.”
Borna Müller het saam met sy vrou, Vanessa, en hul 21 maande oue babadogtertjie, Ivana, vir die eerste keer na die Klopse kom kyk. Hulle het sowat ’n jaar gelede permanent van Switserland na Kaapstad verhuis.
“Dit is baie mooi en kleurryk en ons geniet dit baie.”
Müller het gesê die liedere wat die Klopse gesing het is vir hom bekend omdat van die liedere ook in Switserland by feeste gesing word.
“My dogtertjie het die optog ook baie geniet, maar sy het begin huil toe van die groepe se duiwels haar kom skrikmaak het.”
Me. Rosalind Booysen van Bonteheuwel is die afgelope 30 jaar betrokke by die Klopse en het gesê vanjaar se optog is baie goed georganiseer.
“Sekuriteit is van ’n hoë gehalte, maar mense staan en wag te lank vir die groepe om te loop.”
)Sowat 14000 Klopse sal na verwagting vandag aan ’n protesoptog in die middestad deelneem.
Volgens Hatton is daar verskeie Klopse-organisasies wat ongelukkig is omdat vanjaar se Tweede Nuwejaar-optog op 1 Januarie gehou is.
Verskeie Klopse-organisasies het formeel by die Wes-Kaapse regering aansoek gedoen om ’n protesoptog te hou. Die provinsiale regering het dit goedgekeur en die optog sal omstreeks 10:00 in Keizergracht begin.
Die groepe sal teen 11:30 ’n memorandum aan die provinsiale regering oorhandig.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger