Dissiplinêre stappe kom teen ANC-lede
2011-03-23 23:00
Johannesburg – Die ANC-lede wat Dinsdag by dié party se Wes-Kaapse hoofkantoor ingestorm en die leiers gedreig het, staar nou disspilinêre aanklagte in die gesig.
Só het Songezo Mjongile, sekretaris van die ANC in die Wes-Kaap, Woensdag bekend gemaak.
“Ons het besluit om verdere stappe teen die betrokke lede te neem omdat hulle die party se naam skade aangedoen het. Hulle het ook die party se eiendom beskadig en die leiers gedreig,” het Mjongile gesê.
Die lede was glo ontevrede oor die ANC se nuutste verkiesingskandidate wat in die Wes-Kaapse wyke aangestel is.
Die groep het ‘n deur afgeskop en die provinsiale leiers van die ANC gedreig.
Na bewering is die hulp van die polisie ingeroep en is die ontevrede persone van die perseel verwyder.
Die ANC is nou besig om die sowat 100 lede te identifiseer wat verantwoordelik was vir Dinsdag se voorval.
“Enige ware lid van die ANC weet wat die normale prosedure is wat gevolg moet word, geen ware lid sal deure afskop en mense dreig nie,” het hy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA